Nov 18 2014

Tandepasta


Ons het almal al gewonder watter doel het tandepasta, buiten dat dit mens se tande skitterwit maak en mens se asem kraakvars! Hier volg ‘n paar wenke wat kan help in elke huishouding:
• Dit verwyder krytmerke: Druk ‘n klein blertsie tandepasta uit en smeer dit op die muur bo-op die krytmerk. Vryf dit versigtig met ‘n sagte doek en spoel dit af. Weg is dit!
• Verfris jou hande: Hoe kry mens knoffel- en uie-reuke uit jou hande? Was dit bloot met ‘n blertsie tandepasta.
• Maak tekkies wit: Maak jou rubbersole skoon deur dit te borsel met ‘n ou tandeborsel en tandepasta.
• Maak jou DVD’s skoon: Raak ontslae van ligte krapmerke deur ‘n bietjie tandepasta op ‘n watte te sit en sagkens van die middel van die DVD na die buitekant te vryf. Spoel dit af met water en vryf dit droog met ‘n sagte doek.
• Swembrille: Die kinders se swembrille pak gewoonlik wit aan in die binnekant van die bril. Smeer ‘n bietjie tandepasta op, en vee dit af. Dit sal helder skoon wees!

Sep 23 2014

Lenteloop 2014


Die Republikeinse Vroubeweging Donkerhoek het hul jaarlikse Lenteloop gehou op 20 September 2014. Hierdie geleentheid het plaasgevind saam met die 21ste verjaarsdagvieringe van Radio Pretoria in Kleinfontein. Soos elke jaar was dit weer ‘n heerlike geleentheid en is die 2,4 km sommer in ‘n japtrap deur die deelnemers voltooi. Hierdie jaar se roete het ‘n bietjie stamina geverg, want die deelnemers moes oor ‘n paar rotsagtige skanse en klippe stap. Maar die mooie natuurskoon van die wildspark en die vars lug het daarvoor opgemaak.

Die lentenar van verledejaar se Lenteloop moes hierdie jaar plek maak vir ‘n lentefeetjie. Sy kon glo toor met haar staffie en het lekkergoed en prettige speelgoed langs die pad vir die kinders uitgedeel.

Deelnemers van heinde en vêrre wat kom saam feesvier het, het ook deelgeneem aan die Lenteloop en daar was deelnemers in die ouderdomsgroepe vanaf jonk tot naby die tagtigjaar. ‘n Medalje is aan elke wenner in die verskillende ouderdomsgroepe oorhandig.

Nog ‘n hoogtepunt by die stap was die Kleinfonteinse rugbyspan, Die Krygers, wat ook as ‘n span saamgestap het. Hierdie opwarming het net gesorg dat hulle ‘n oorwinning later die dag behaal het teen die Oraniaspan, Die Rebelle.

Ons dank aan elkeen wat deelgeneem het aan hierdiejaar se Lenteloop. Dit was nie net ‘n stap nie, maar ook ‘n gesellige kuier en samesyn tussen vriende en familie.

En nou vir eers pak ons ons lenteloop skoene weg, tot die volgende keer in 2015. Hoop ons sien julle almal weer daar!

Groete
Die Republikeinse Vrouebeweging Donkerhoek
“Kaalvoet as ons moet.”

Aug 27 2014

Slim idees vir lui vrouens!

Goeie dag al die dames,
Ons soek almal ‘n kitsoplossing vir enige frustrasie in die huis. Dis mans sal natuurlik reken ons is lui, maar kom ons noem dit: SLIM!

Plaas kersie-tamaties tussen 2 deksels en sny meer op ’n slag.


Plaas malvalekkers in bruinsuiker as jy dit stoor. Dit absorbeer al die vog. Die help dat daar nie klonte vorm nie.


Plaas jou klitsers deur ’n papierbord, dit help om die res van die kombuis skoon te hou.


Trek jou verfbak oor met foelie. Dan gooi jy net dit weg as jy klaar geverf het.


Maak ’n koeksoda-water mengsel om dorings en splinters uit te trek. Sit die koeksoda mengsel op en plak dit toe met ‘n pleister.


Sny blaarslaai fyn en bere in glas Mason bottels. Dit hou baie langer.


Plaas rubber rekkies aan die einde van jou hanger. Dit voorkom dat gladde klere afgly.


Smeer asyn op jou snybord voordat jy ’n ui sny. Dit sal help dat jou oë nie traan nie en dit affekteer glad nie die ui se smaak nie.

Aug 14 2014

14 Augustus – Taaldag

Hoekomstaan die 14de Augustus as die Afrikaanse Taaldag bekend?

Mens kan maklik redeneer dat ‘n taal nie sommer op een dag tot stand gekom het nie, maar dat dit mos ‘n dinamiese ding is wat oor tyd heen ontwikkel. Die rede waarom ons tog kan sê dat ons taal op hierdie dag in 1875 tot stand gekom het, is te danke aan die stigting van ons heel eerste taalgenootskap: Die Genootskap van Regte Afrikaners.
Dit is belangrik om te noem dat hier die organisasie nie gestig is om Nederlands as taal te vervang nie, maar om dat daar ‘n nuwe taal in Suid-Afrika ontwikkel het wat naas Nederlands erken moes word. Die groot doel wat die GRA vir hulself gestel het, was om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Nadat Arnoldus Pannevis, C.P Hoogenhout, D.F. du Toit en Ds. S.J. du Toit (Totius se vader) die GRA op 14 Augustus 1875 gestig het, het hulle saam die eerste Afrikaanse Volkslied gedig.

Geniet hierdie gedig uit die harte van ons taal patriotte! Ons is dankbaar vir dit wat hulle vir ons volk en taal gedoen het.

Geniet Taaldag en praat Afrikaans!

Jul 24 2014

Wenke vir Boerewors

Goeie dag al die dames,

Almal dink altyd net ‘n man kan ‘n sappige stukkie boerewors braai. Hier volg ‘n paar wenke, sodat ons dames ook die kuns kan bemeester:

• Doop die boerwors in water voor dit gebraai word – dit verhoed dat die wors maklik oopbars
• Steek 2 sosatiestokkies of 2 kebabspenne deur ‘n opgerolde rol boerewors – dit maak die hantering en omdraai daarvan soveel makliker
• Braai boerewors altyd oor matige warm kole, d.w.s. wanneer jy jou hand 3 sekondes lank bokant die kole kan hou.
• Draai die wors om sodra die vette aan die binnekant van die derm borrel.
• Moenie ‘n vurk gebruik om boerewors om te draai nie, gebruik ‘n braaitang sodat die vleissappe en vette nie onnodig verlore gaan nie.

Jun 24 2014

Ouma se resep-terme


Goeie dag al die dames,

Ons almal was al in die penarie as ons Ouma se resep probeer maak, en ons lees: “”n bietjie meel”, of “”n sopie asyn”. Dis om van rasend te word! Ons kan u egter uit die penarie help.

Terme en benamings in die volksmond:
Bossie (bv. wortels) 750g (wanneer rou)
Bietjie Bottel eenmaal vinnig omgekeer/na smaak
Kelkie 180ml
Klontjie (bv. botter) 10ml
Knippie +- 1ml (tussen duim en voorvinger opgetel)
Knypie +-1.25ml (effens meer as ‘n knippie)
Porsie ‘n vuisgrootte, genoeg vir een volwassene
Proesel(-tjie) met eetlepelpunt geskep, +- 10ml
Sap van ‘n halwe (bv. suurlemoen) 30ml
Skeppie +-10ml
Smeersel 1 e (genoeg om ‘n kastrol binne te smeer)
Sopie 25ml
Titsel(-tjie) 0.5ml

May 22 2014

Outydse boerseep

Goeie dag al die dames,

Ons almal het al gewonder hoe het die Voortrekkers Boerseep gemaak. Die RVB is bevoorreg om hierdie resep met almal te deel. Hierdie seep is baie eenvoudig om te maak en werk uitstekend om vlekke uit klere te haal en hande te was. Jy kan dit selfs rasper en in louwarm water oplos om die hardnekkig kolle uit jou matte te verwyder.

Outydse Boerseep:

Bestandele:
150ml koue water
30ml seepsoda (caustic soda)
400gr vet (enige dier vet)
Houer om klaar seep in te giet.

Seepsoda:
Seepsoda kan in byna enige supermark gevind word, maar wees baie versigtig met die hantering daarvan. As dit aan jou hande raak, kan jy lelik brand en wanneer die seepsoda met die water meng, styg daar walms op wat giftig is. So maak seker jy haal nie asem direk bo die bak met water en seepsoda nie.

Die Vet:
‘n Bees se agterkwart se vet kan gebruik word. Die vet word in blokkies gesny, gooi dit in ‘n groot pot en braai dit oor lae hitte om sodoende alle vet uit te haal. Voor die vet weer stol, syg dit deur ‘n doek sodat net die suiwer vet kan deursyg en net die kaaiings oorbly. Dit is hierdie vet wat gebruik word vir die boerseep.

Houers:
Enige houer gebruik word, solank dit nie vlekvrye staal is nie. ‘n Goeie idee is ‘n leë roomys houer (2Liter) of ‘n oopgesnyde karton koeldrank boksie. Wanneer die seep gestol het, kan die seep maklik uitgehaal word aangesien die houer kan buig.

Metode:
Plaas die water in ‘n porselein- of stewige plastiek bak. Gooi die seepsoda versigtig by sodat dit nie spat nie, en laat staan dit ongeveer 5 minute, totdat die mengsel warm is.
Smelt ondertussen die vet in die mikrogolfoond of op die stoof. Dit moet heeltemaal gesmelt wees.
Giet die gesmelte vet versigtig by die water en seepsoda mengsel.
Roer met ‘n houtlepel vir ongeveer 40 minute, totdat dit verdik.
Giet dit oor in die voorbereide houers om hard te word.
Haal die seep uit na 24 uur en sny dit in die grootte wat vir jou gerieflik is. (Gebruik ‘n warm mes vir ‘n meer afgewerkte uitkoms)
Draai die seep toe in kleef plastiek en bêre op ‘n droë en donker plek.

Apr 30 2014

Mediaverklaring – Nasionale kongres

MEDIAVERKLARING

29 APRIL 2014

REPUBLIKEINSE VROUEBEWEGING – NASIONALE KONGRES

Op 26 April 2014 het die RVB hul 2de Nasionale Kongres by die Paardekraal Monument te Krugersdorp gehou, waar die tema die herdenking van die 1914 Rebellie was.

Daar is terug gekyk na die twee jaar wat verby is en wat alles vermag is en hier onder is net ‘n paar van die aksies van die RVB dames landswyd:

Daar word reeds elke maand interessante berigte, wenke en of resepte in Die Vryburger gepubliseer.
Die Sorgsentrum te Kleinfontein word maandeliks besoek.
Die bekende Tydlynkompetisies is suksesvol aangebied.
Daar is dinees gereël vir die VVK, CVO Brandwag.
Daar is voedsel aan arm families en gemeenskappe oorhandig.
Konserte is aangebied ten bate van benadeelde Boere Afrikaner families.
Vierkleurvlae en Rebellievlae is gemaak en verkoop om ons weer moed en hoop op die toekoms te gee.
Kosstalletjies is beman.
Kranse is gelê.
Lenteloop is aangebied.
Ons Paardekraal Monument het aandag gekry.
Ons kinders is geleer van wat werklik in ons verlede gebeur het en nog baie meer.

Anneke Geldenhuys het die trofee ontvang vir die toegewydste dame in die Beweging en Donkerhoek en Paardekraal takke deel die trofee vir die beste tak. Twee meriete sertifikate is ook oorhandig aan Claudia Beyers vir die stigting van die Penkoppe en Agnes Olivier vir haar volgehoue werk in Ellisras op die volksakker.

In kort – al ons lede het hard gewerk en opofferings gemaak en groot suksesse bereik.

‘n Nuwe bestuur is ook gekies:

Voorsitter – Anneke Geldenhuys
Ondervoorsitster – Juanita Kotze
Penningmeester – Anita Schütte
Sekretaresse – Sylvia Mann

Sylvia Mann
Sekretaresse – Republiekeinse Vroue Beweging van Suid Afrika

Apr 17 2014

Rate met kaneel en heuning


Goeie dag al die dames,

Kaneel en heuning het wonderlike heilsame uitwerkings vir die volgende kwale:

Artritis: 1koppie gekookte water, 2 eetlepels heuning en 1teelepel kaneel, meng alles saam en drink daagliks om pyn te verlig.

Tandpyn: Maak ‘n pasta van 1teelepel kaneel en 5 teelepels heuning, smeer aan die tand wat pyn 3 keer per dag, tot die tandpyn weg is.

Verkoue: Meng 1 eetlepel lou warm heuning met ¼ teelepel kaneel en drink 3 keer per dag, dit sal help dat jy gouer gesond word.

Immunstelsel: Daaglikse gebruik van 1 teelepel heuning en 1 teelepel kaneel gemeng help om bakteriese en virale infeksies teen te werk.

Mar 18 2014

Asyn wenke:

Goeie dag al dames,

Soos u almal weet het asyn baie heilsame uitwerkings:

– Vryf ‘n pasta van koeksoda en asyn aan vuil hempkrae, laat dit ‘n ruk lank staan en was dan soos normaal.
– Gooi ‘n paar druppels asyn by skoenpolitoer wat hard geword het, dit maak dit weer sag.
– Verhit ‘n bietjie asyn en week ‘n kwas (waarvan die hare hard geword het) daarin. Was dit na die tyd met skottelgoedseep. Dit sal so goed soos ‘n nuwe kwas wees
– Gooi ‘n bietjie asyn in jou olie, dit keer dat vleis wat in krummels gerol is vasbrand in die pan.
– Om seker te maak jou vis absorbeer nie te veel olie tydens die braaiproses nie, gooi ‘n bietjie asyn by die olie waarin jy dit braai.
– ‘n Mengsel van asyn en Citrosoda maak ‘n aangebrande pot maklik silwerskoon.
– Wanneer jy uie smoor, gooi bietjie asyn en suiker by om dit ‘n heerlike reuk en pragtige ligbruin kleur te gee
– ‘n Mengsel warm water en asyn raak van lastige miere ontslae.
– Maak ‘n aangepakte ketel skoon deur asyn daarin te kook.
– Verwyder vlekke op jou mat met asyn
– Maak handedoeke (wat hard uit die was kom) weer sag deur ongeveer een eetlepel asyn by die laaste uitspoelwater te gooi.

Older posts «