«

»

Sep 23 2014

Lenteloop 2014


Die Republikeinse Vroubeweging Donkerhoek het hul jaarlikse Lenteloop gehou op 20 September 2014. Hierdie geleentheid het plaasgevind saam met die 21ste verjaarsdagvieringe van Radio Pretoria in Kleinfontein. Soos elke jaar was dit weer ‘n heerlike geleentheid en is die 2,4 km sommer in ‘n japtrap deur die deelnemers voltooi. Hierdie jaar se roete het ‘n bietjie stamina geverg, want die deelnemers moes oor ‘n paar rotsagtige skanse en klippe stap. Maar die mooie natuurskoon van die wildspark en die vars lug het daarvoor opgemaak.

Die lentenar van verledejaar se Lenteloop moes hierdie jaar plek maak vir ‘n lentefeetjie. Sy kon glo toor met haar staffie en het lekkergoed en prettige speelgoed langs die pad vir die kinders uitgedeel.

Deelnemers van heinde en vêrre wat kom saam feesvier het, het ook deelgeneem aan die Lenteloop en daar was deelnemers in die ouderdomsgroepe vanaf jonk tot naby die tagtigjaar. ‘n Medalje is aan elke wenner in die verskillende ouderdomsgroepe oorhandig.

Nog ‘n hoogtepunt by die stap was die Kleinfonteinse rugbyspan, Die Krygers, wat ook as ‘n span saamgestap het. Hierdie opwarming het net gesorg dat hulle ‘n oorwinning later die dag behaal het teen die Oraniaspan, Die Rebelle.

Ons dank aan elkeen wat deelgeneem het aan hierdiejaar se Lenteloop. Dit was nie net ‘n stap nie, maar ook ‘n gesellige kuier en samesyn tussen vriende en familie.

En nou vir eers pak ons ons lenteloop skoene weg, tot die volgende keer in 2015. Hoop ons sien julle almal weer daar!

Groete
Die Republikeinse Vrouebeweging Donkerhoek
“Kaalvoet as ons moet.”